Joseph Goebbels

Paul Joseph Goebbels (29 Oktober 1897 in Rheydt – 1 Mei 1945 in Berlyn) was een van die bekendste en invloedrykste Duitse politici in die tyd van die Nasionaal-Sosialisme en een van Adolf Hitler se naaste vertrouelinge. As Gauleiter (plaaslike partyleier) van Berlyn ('n amp wat hy sedert 1926 beklee het) en as Reichspropagandaleiter het hy vanaf 1928 'n beslissende rol by die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Arbeidersparty (NSDAP) se uitbreiding in die laaste fase van die Republiek van Weimar gespeel. Tussen 1933 en 1945 het hy as ryksminister vir volksvoorligting en propaganda en as leier van die Reichskulturkammer gefungeer. Sodoende was hy in staat om die Duitse perswese, uitsaaidienste, rolprentvervaardiging en die hele kultuurbedryf in die gees van die Nasionaal-Sosialisme te herorganiseer. Met sy doeltreffende propaganda het Goebbels 'n breë massa van die Duitsers aangespreek en groot geesdrif vir Hitler en sy Nasionaal-Sosialistiese gedagtes gewek. Tydens die Tweede Wêreldoorlog was hy mede-verantwoordelik daarvoor dat die bevolking selfs ná die strawwe wending van die oorlog laat in 1942 steeds bereid was om Hitler se doelwitte te steun. As gevolmagtigde vir die totale oorlogsinspanning het hy vanaf Julie 1944 daarvoor gesorg dat nog eens honderdduisende weerbare mans tot krygsdiens opgeroep is. Met sy anti-semitiese propaganda het Goebbels die pad vir die moord op ses miljoen Europese Jode berei en die pogroms ontketen wat op 9 November 1938 dwarsoor Duitsland plaasgevind het. Tydens die oorlog het steeds weer die deportasie van Joodse burgers geëis, selfs al het hy geweet dat hulle na verdelgingskampe vervoer is. Sy uitvoerige dagboeke, wat hy vanaf 1924 tot en met die dag van sy selfmoord in 1945 gehou het, word as 'n belangrike bron vir die geskiedenis van die NSDAP en die Derde Ryk beskou.


Developed by StudentB